Die regering se reddingsplan om maatskappye in die resessie te help, het misluk.
Dié plan het onder meer die heropleiding van werkers behels om afleggings te voorkom.
Uit verskeie voorleggings gister in die parlement is dit duidelik dat burokratiese rompslomp die plan gekelder het.
Net ’n deel van die beskikbare R8,5 miljard van die reddingspakket wat in Augustus verlede jaar deur pres. Jacob Zuma aangekondig is, is benut.
Hiervan sou R6,1 miljard se hulp na ondernemings gaan wat kwaai deur die resessie getref is en R2,4 miljard aan die heropleiding van werkers.
Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) het gister die siening van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) beaam dat die regering se resessie-hulpplan geen verskil gemaak nie.
Me. Bev Jack, Busa se verteenwoordiger vir behoorlike werk, het aan die portefeuljekomitee vir arbeid gesê sy is teleurgesteld dat die opleidingskema “nie geslaag het nie”.
Teen die tyd dat die skema in (September 2009) in werking getree het, was meer as 750 000 poste reeds verlore. Dié werkers kon nie ingesluit word by die opleidingsprojek nie omdat hulle reeds die maatskappye verlaat het, het sy gesê.
Vroeër vanjaar is net sowat R10 miljoen van die geld vir die opleidingsprojek benut. Die reddingsfonds moet voor April 2011 al die geld toeken.
Afgevaardigdes van die NOK het onlangs in die parlement gesê slegs R1,4 miljard van die beskikbare R6,1 miljard wat aan die NOK toegewys is, is benut om maatskappye te help wat weens die resessie op die punt was om ten gronde te gaan. Dit is omdat die sakesektore nie geweet het hoe om die geld betyds te benut nie.
By die bekendstelling van die fonds het mnr. Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, gesê: “Die behoefte sal altyd groter wees as die geld wat ons beskikbaar het.” Destyds is gesê aansoeke van 47 maatskappye ter waarde van R1,1 miljard is reeds ontvang en meer as 20 aansoeke om hulp ter waarde van R2,6 miljard word oorweeg.
Klem is gelê op hulp aan die motorbedryf en ’n reddingsplan vir die klere-en-tekstielbedryf. Dié bedrag moes verhoog word met geld uit die sektorale opleidingsowerhede (setas), want hulle is gevra om bykomende geld vir dié opleidingsprogramme opsy te sit.
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het gister gesê dié seta-geld is amper glad nie benut nie. Die geld uit die nasionale opleidingsfonds moes die heropleidingsprojek aanvul.
Die nasionale opleidingsfonds staan nou op ’n onbenutte R5 miljard waarvan R1 miljard vir die heropleidingsprojek bedoel was.
Volgens mnr. Kaizer Thibedi, projekbestuurder by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), het die administrateurs van die heropleidingsprojek 9 444 gevalle by 66 maatskappye tot op hede verwerk.
Dit sluit sake in wat nie suksesvol was nie asook sake wat onttrek is.
Tot Maart vanjaar het minstens 2 700 maatskappye om hulp aansoek gedoen.
Bron: Sake24
No comments:
Post a Comment